In die droë herfsblare in ‘n boek
tussen die ou reuke van bloekomblaar en mint
het ek gaan verdwaal en jou gaan soek

In die argiewe van akasha
met net ‘n silwer lyn om
my in die doolhof terug te lei
het ek ‘n krummeltjie van jou probeer kry

en iewers tussen seisoene het ek
(daar was iewers ‘n lag in die nag)
op middernag ‘n kers gebrand, jou naam geroep
(daar was eggos van jou-onthou in my hart)

nogsteeds was jy net soos ‘n naald in ‘n naaldhoop
so baie soos jy
maar niks kon ek kry

en op ‘n ashoop tussen Gisters en Verlore Kanse
het Hoop geblink soos die son
iets het geskitter en dit was jy.

(iemand het ‘n lappop op die ashoop)
weg gegooi
(was jy)
maar ek het jou gevind.

(c) 2014 allen simpson
Vir Babatjie