Ek het nog altyd ‘n anderste oog gehad, het baie alleen in afsondering sonder maatjies op ver plekke gebly waar my gedagtes en die woude of bosveld (hang af waar ons gebly het) my vriende was…

ek het in die berge van Glenharvie
verlore geraak as kleuter
net ek en my hond
gekry was ek opgekrul
tussen kakiebos en klip

in Hammanskraal was ek die bosveld in
veldlikkewaan en sonbesie het my gelei
en krimpvarkies rondom my
die stilte was ‘n nimmereinde
en die maan was groter as ‘n god

ek het verdwyn soos ‘n wasem
in die bergmis van Magoebaskloof
tussen varings en denneboom
‘n deel van my hart verloor

my kinderdae was net natuur
en hier
in die stad met sy
vuilbruinblou lug
is dit my hart
wat dikwels na sulke plekke terug wil vlug

toe ek nog jonk was
is ek getoor
deur vars lug
en groen wat nooit ophou nie

toe ek nog jonk was
was televisie net ‘n droom
en ‘n bosveldloerie my radio

nou is ek amper in my winter
en nog roep die natuur my terug

(c) 2014 allen simpson