Foto geneem te Zebra Lodge, Cullinan
Foto geneem te Zebra Lodge, Cullinan

Gee my die treurwilgers van Vaalrivier
As die waters blom na goeie reën
Gee my kaalvoetdroomdae
Visvang met Afrika in my oog

Gee my Hammanskraal se velde
Toe daar nog net velde was
Toe ek nog vir krimpvarkies kon lag
Pienaarsrivier kon swem
En op ‘n rots bak ‘n likkewaan
En Afrika is in my oog

Gee my Magoebaskloof
Haar mistiek en laagwolkmantel
Waar fee fluister in droommiswolk
En dennebome liefde vir my tolk
En watervalle geheime fluister
Oor Afrika in my oog

En Hartebeespoortdam
Het my siel ‘n stuk gesteel
Maar in my hart ‘n oog gelos
Op die brug was net
Afrika in my oog.

Ver suid in Knysna
Was ek ook
En verdwaal in Moeder Natuur
En Plettenbergbaai het my hart veraai
Ook Afrika in my oog hier…

In my kamer in die voorstad
Luister ek in donker nag
‘N uil roep sy nag-hoekom
En Afrika antwoord in my hart…

(C) 2013 allen simpson
Vir die wat nooit ons land sal verlaat nie, die gedig vir julle

Advertisements