‘n duet deur Hanneliese Oberholzer van  hanneliesebredell07 en Allen Simpson

hy:
tussen die plesier en die heerlikste pyn
in swart ink en rooi bloed opgeroep
het die mooiste feniks op haar skouer verskyn
my vingers vind dit, speel met vlerke van sagvel satyn
haar stem word ‘n feniks sang
wat in die vroegskemer roep
en op my rug, dans die swaan
hy wil na feniks gaan

sy:
kom baai in my vlerkspan
jy sal my hunkerende fluister na jou vind
gul nooi ek jou my binneste in
inkpyn se skakels wat ons bind
jou vingers weerspieël die plesier
veel meer het ons om te vier

hy:
die kuns in bloed gewas
die naald gedoop in ink
die lyne getrek op jou, die boek
jy is die woorde in ink
en ek het jou gevind

sy:
jy’t jou naam verewig op my lyf
jou donker lig, verlig my hart
jou strale reik na my
sweis jou vas op my lyf
rooi-swart sypel dit deur
die ink van ewigheid
en wanneer jy na my roep
sal ek jou ken
aan die swart vlerkspan geink
op jou sierlike rug

hy:
in ink ons liefde ‘n kontak
wat ons donker siele bind in lig
ons in ink, ewig

(c) 2014 Hanneliese Oberholzer Allen Simpson

Advertisements