die weer breek wind oor die aarde
die poue roep om skuil te soek
daar is ‘n pouse vol paranoia
Odin weergalm meteens, versteen
staan almal ‘n sekond of twee…

dan gee die sluise mee

daar woed onstuimig in die diere hart
as bliksem en donder tart
‘n reuk van soet osoon en nat aarde
vul die neus
en die storm word al kwater

en middag son se vroeg vaarwel
die hitte van dag reën weg
koel koeler koelste skemer
verander in koudste nag

iewers op ‘n stoep sit ‘n boer en lag
onstuimig is dit dalk maar hy het gewag
daar was hard gebid en sy aarde is geseën
onstuimig dalk soms, maar wonderlik is die reën

(c) 2014 allen simpson

Advertisements