ek drink rou wyn van verlange
spoel gisters af
tot binne my
en voel die effek
troos en tart
tussen wat was en wat is
wonder ek wat sal wees
terwyl ek treur
in die bodem van my rou wyn

ek rou die dae toe almal nog onskuldig was
toe die wêreld nog jonk was
maar die wêreld het saam met my oud geword
saam met my, wat sterk moes word
deur al die mishandeling,
honger dae,
koue dae in die storms
ja ek het sterk geword
maar die wêreld het vrot geword
sosiale erosie

almal verdrink in selfone en praat nie meer met mekaar nie
ons ken honderde op facebook
maar is alleen

en drink maar die rouwyn van verlange
en steek weg die seer

(c) 2015 allen simpson
Snaaks hoe ‘n foto mens kan inspireer. Die gedig was pret om te skryf, want die inspirasie was soos ‘n vloedgolf.

Ek dra die een op aan almal wat dink hulle hele lewe is op hulle selfone…
lekker lieg vir jouself

dankie aan Hanneliese vir die foto

Advertisements