Met die storie van die konsentrasie kampe van Belfast en Lydenburg vas in ons geheue (sien storie hier: http://bit.ly/wemmershoek) het ek en Hanneliese Wemmershoek verlaat, gewapen met lekker konfyt wat die Oom en Tannie vir ons persent gegee het. Vol bederf deur traditionele ou boer gasvryheid het ons besluit om Lydenburg begrafplaas te gaan besigtig voor ons na Waterval Boven sou gaan om na ou geboue te kyk wat oor die 70 000 jaar oud is.

pragtige grafheining
pragtige grafheining

Die begrafplaas was pragtig maar ook verwaarloos alhoewel dit baie beter gelyk het as Belfast sinne.

Die wolf raak rustig
Die wolf raak rustig

Rustig het ek gesit en gedink aan die lewens wat verby is, aan elkeen se lag en traan en gehoop dat die wat in die konsentrasie kampe was darem goeie dae ook gehad het in hulle gevangenskap.

Hanneliese en ek was oppad na die agterste deel van die begrafplaas toe ‘n Mercedes op ons afpeil. “Toemaar Hanneliese, mense wat Mercedesse ry, is gewoonlik rustig” het ek haar gesê (hulle ry mos gewoonlik nie vinniger as 20km per uur nie hehehehe nou soek ek moeilikheid met my lesers).

Die man wat in die kar gesit het, het breed geglimlag en hom voorgestel as Jay-Jay Viljoen. Hy het summier uit geklim en my op die skouer geklap. “Jy lyk dors” het hy my gesê en asof hy Martino is ‘n bottel voggies en ‘n bottel Coke opgetower. Toe gooi hy ‘n dop wat meeste mense sal laat weghardloop. net om dit in te asem voor jy drink slaan jou asem weg. Toe weet ek, die oom speel nie, drink ken hy van.

My gesig is getuienis hoe 'flou' Jay-jay sy dop gooi hehehehe
My gesig is getuienis hoe ‘flou’ Jay-jay sy dop gooi hehehehe

Ons het plesierig begin gesels en Hanneliese en ek kon al die hiernamaals sien, so lekker het ons op daardie brandewyn gekuier met Jay-Jay. Hy het ons vertel van sy plasie op Zeerust en hoe hy net hier na Mpumalanga gekom het om vriende mee te help op hulle hoenderplase. Sien hy is ‘n boilermaker (Ketelmaker in Afrikaans) en hy fieks die boilerroom (Ketelkamers) sodat die hoenders nie moet vrek van die koue in die winter nie. ‘n eerbare ding, om die hoenders te help en ek lief hoenders so Jay-Jay is ‘n held en ek moes nog ‘n dop daarop drink.

Tussen die doppe deur het hy gesê ek lyk soos ‘n begrafnis ondernemer en my ‘The Undertaker’ begin noem. Nie oor die stoeier nie,maar oor my ‘modesmaak’.

Hier ontvang ek 'n preek omdat ek my dop flouer wil gooi.
Hier ontvang ek ‘n preek omdat ek my dop flouer wil gooi.

Jay-Jay het ons genooi vir worsbroodjies maar ek en Hanneliese wou eers fotos by die murasie in die begrafplaas gaan neem. Toe gee hy my sy glas en sê dat ons moet verder fotos neem en dan sy glas moet bring na waar sy pêl worsbroodjies verkoop. Toe ry hy.

Ons neem toe al hoe drinkend fotos (want Jay-Jay het paddop vir ons gelos).

Mooi foto van my en Jay-Jay se glas
Mooi foto van my en Jay-Jay se glas

Ons het op die pad uit Lydenburg (Na Orighstad se kant toe) gaan stop by die worsrolletjie stalletjie waar Jay-Jay my aan sy vriend voorgetel het as ‘The Undertaker’. Daar het ons die lekkerste worsrolletjies geeet seker in die hele ou Transvaal en miskien Suid Afrika. Die outjie is ‘n prins onder worsrolletjie makers en as jy jou bevind in Lydenburg en uitry op die pad na Orighstad, gaan proe en jy sal weet, hy is fantasties.

Na nog twee doppe ‘Jay-Jay-styl’ het ons weer die pad gevat.

Hanneliese het my net eers gewys waar sy skool gegaan het. Toe staan die pad na Waterval Boven voor ons. En dit was fantasties op Waterval Boven, so skakel weer in hier op Wolfshadowwhispers vir ons storie: Pelgrims Tog, volgende keer.

Advertisements