EK het oor die naweek die ou tv reeks ‘The Wonder Years’ herontdek en dit het my terug ontvoer na my eie kind wees.

Ek onthou hoe ek in die klein myn dorpe Glenharvie en Fochville gebly het en elke Saterdag op ‘n avontuur gegaan het. Gewoonlik was dit om ‘n leeg myn huis te vind en daarin te gaan ontdek en verken. Daar was altyd ‘n paar op die dorpe, want mense het gekom en gagaan, is verplaas of het na beter myne gaan soek.

‘n mynhuis was altyd interresant en dit was nooit oor wat jy daar kry om te kan vat nie. As ek iets gekry het wat die mense met die trekkery agter gelos het, het ek dit nie vir my gevat nie maar soms gedink oor wie se eiendom dit was, en stories uit gedink oor hoe hulle dit gebruik het.

Tog was daar die een keer wat ek ‘n perdeskoen opgetel het, geroes en oud in ‘n agterplaas. Trots op my skat het ek dit in my broekie gehak en verder verken. Ek het ure gespeel daar en toe dit donker word het ek huis toe geloop.

Nou dit was in die dae toe die donker nog nie almal in vrees gelaat nie. Myn gemeenskappe was na aan mekaar en het kinders tot laat buite laat speel. Ek het by ons tuinhekkie ingestap en ma het my ingewag. Haar gesig was bleek. Sy het op die nuus gehoor ‘n mynskag het ineen gestort en my pa het gewerk by die myn wat genoem is.
Ek het nie geweet nie. Kinders het nie altyd geweet van rots storting in skagte en sulke goed nie. Sy het my gegryp en vas gedruk, en toe die perdeskoen teen my rug gevoel.

“Allen, wat is dit?” het sy gevra. Ek wou haar nie van die leeg huis vertel nie, want ek mag nie daar gewees het nie.

“Ek het dit opgetel mamma. Ek dog ek het dit terug gegooi” het ek gesê

Sy het dit by my geneem en vertel van haar oorlede ma wat geglo het perdeskoene bring geluk. Sy het gesê volgens die gypsies is daar twee maniere wat dit geluk gee. ‘N perdeskoen wat jy na onder hou laat geluk uitloop en deel met almal, en ‘n perdeskoen wat regop soos die letter ‘U’ gesit word vergader geluk en hou dit vir almal by die huis. Ek kon sien iets pla haar en het haar gevra wat. Sy het gesê daar is moeilikheid by die myn.

“Mamma, as ons die geluk laat uitloop sal dit maskien myn toe loop en help by pappa”,het ek gesê. Sy het hard gesnik en geglimlag en ons het geaan en die perdeskoen bo die kaggel gesit, sodat die geluk kan loop.

Wie weet of dit regtig werk. Ek is nie ‘n bygelowige man nie, maar my pa het daardie aand huis toe gekom. Nie ‘n skrapie aan hom nie.

(c) 2015 allen simpson

Foto Kopiereg Allen SImpson en Hanneliese Bredell

Advertisements