Gee my nie ‘n huis van glas en beton nie,
grys songebrande teerpaaie wat stinkend sug,
die leë kyk in die verveelde oog van mammon se priester agter die kas register,
die uitlaatpyp poefstink daar onder in die straat
die nee-fok-asseblief-nie karkas van nog ‘n kar
gekonsertina om nog ‘n paal
en aasvoël mense wat gluur en hoop
om wonde en bloed en kak te sien
asof hulle nie genoeg op die nuus sien nie.

my huis is van Aarde en Reën
waar hadidas kreun
en kameelperde langnek vry na blare hoog in bome
waar flappe met hulle lang sterte dans in die lug
voor die reën
gee my die roep van die tarentaal
beter as enige minibus taxi
se doef doef op ‘n onheilige desibel

my huis van aarde en reën
roep my
roep my
ek wil huis toe gaan

(c) 2015 allen ‘wolfie’ simpson

Advertisements