Haai daar. Soos ek belowe het in my blog artikel Poue in ‘n reënboogdorp het ek nog iets oor poue vir julle. Hier is dit….

Eendag was daar ‘n pou wat in ‘n Ndebele Dorpie gekuier het met sy ander pou maats. Hy was moeg vir al die kleure en ook van sy vriende was snobbisties en het net gestaan en pronk en gegil oor wie die blouste pou was. Ons Pou, sy naam is sommer Pou’l het besluit om te gaan rondloop by die bloekomboom woud.

Pou’l het nog lekker gestap toe sien hy twee ou vrinne…

So wrintiewaar dit was Malkou, die makou en Hoenry die hoender! “Groetnis julle” het Pou’l gegroet. Hoenry het geskrop in die grond. “Ke ke ke-ke, Groetnis ou blinke’ het Hoenry geskerts. ‘Mak-mak” het Malkou gesê (en dit was ook al wat hy gesê het vandat hy malpitte ingekry het.

“Ke ke ke-ke, wat maak jy vandag, ou blinke?” het Hoenry Pou’l gevra.

“Ag sommer lus om in die Bloekom woud te gaan stap.” Het Poul’s gesug. “Die ander pou dink weer hulle is divas. Ou Blounek probeer weer om te Pavarotti in ‘n Dozi stem.”

“Mal-ma-mak” het Malkou gesê en net stadig kop geskud. Ou Blounek kon net nie sing ne, maar het gedink hy is die stem van Afrika.

Hoenry het eweskielik begin sing:

“Tussen gister en vandag
raak my probleme
vergete
as my gedagtes dwaal
in die bloekomwoud

tussen nou en netnou
is daar ‘n oomblik
‘n huidige swanger oomblik
waar nuwe dinge wag
en my pen wil bloei
vir jou dit neerskryf
net vir jou

tussen my en jou
‘n miljoen woorde
wat krioel in my hart
tussen ons
net ons

my gedagtes loop
in die bloekomwoud
ek wolf, en jy jakkals,
wat trou
in reën en sonskyn

want tussen jakkals en wolf
lê geheime
wat net my pen kan sê
as my tong kruppelkruip
en my kniee jellie-verdrink in my gemoed

ja tussen my en jou
‘n miljoen woorde
wat krioel in my hart
tussen ons
net ons
gebore in ‘n bloekomwoud”

Pou’l het gesug van lekker kry. “Haai Hoenry waar kry jy die lekker liedjie?” het hy gevra.

Man, weet jy, eendag was hier ‘n man in swart wat in ‘n wolf verander het in die bloekom woud. Toe sing hy die liedjie. Toe vra ek hom wie hy is en hy het gesê hy is Wolfie die digpelgrim. Hy was bietjie weird, maar sjoe ek het die liedjie geniet toe leer ek dit by hom.

“Bleddie mooi,” het Pou’l geantwoord.

“Ja, digters ken van woorde.., as ek maar net kon dig… maar ek kan darem skrop.” Het Hoenry gesê en weer geploeg in die grond.

Die drie voëls van nie-eenderse kleure het gestap na die bloekombome. En daar het hulle miskien die wolf ontmoet van Hoenry sê verhaal. Maar nou-ja… dit is ‘n ander storie.

Dankie vir die saamlees. Ek was effens op sjampanje toe ek die storie uitgedink het maar soos Hoenry sê, die wolf is weird. Die liedjie wat Hoenry gesing het kom uit my gedig “Gedagtes uit ‘n Bloekomwoud“.

 

Hoop julle het lekker gelees. Jammer vir die storie… nie my beste werk nie, hahahahaha.

(c) 2016 allen simpson

Konsep, Storie en gedig – Allen Wolfie Simpson

Fotos – Allen Wolfie Simpson en Hanne liese Bredell

 

Advertisements