Buite is dit grys en nat en soms net soms, is daar die dreun van donder, wat speels kom hallo sê. Voor my lê ‘n half geknibbelde pannekoek, die smaak en geur van kaneel nog diep in my tong gestreel. En dit bring herhinneringe terug na een van my ou gedigte in my eerste bundel, Tales From The Flow.

Kaneel…

stooi dit sagkens oor
en fyn kaneel kan toor
soos fairy dust van ‘n Tinkerbelle
het dit ‘n unieke towerspel

…en as jy liefde soek
het ouma vas geglo
sal kaneel onder jou kussing
jou drome vir jou bring
om hom of haar vir jou te wys
wat vir ewig jou sal kys

…kaneel is in my bloed
pampoenkoekies, pannekoek
en allerhande sulke goed
en laat my altyd onthou
aan winteraand as kind
die warm liefde geskink
glasie melk met kaneel
en droomland wat daarin wink…

(c) Allen Wolfie Simpson

Kaneel is lekker, en kaneel is verlange. Ek mis die winterdae wat my ma melkkos gemaak het op die regte boere manier, ek mis my skoon suster se pampoenkoekies. Nostalgie swem in my hart en met elke knippie kaneel wat ek vandag eet, onthou ek die liefde wat al daardie smake vir my gegee het… Daar die liefde is nog in my, ewig… en die warmte in my hart blus nooit. My worshondjie krap aan my, en wil ook proe. Ek tel hom op en gee hom ‘n drukkie… maar die ander helfte van die pannekoek eet ek alleen. Suiker is slegter vir honde as vir ‘wolwe’.

(c) 2016 allen simpson

Tales From The Flow
Tales From The Flow
Advertisements