Geinspireer deur Toortsie van Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se ‘Byname’ artikel skryf ek die artikel oor byname.

My van is Simpson so jy kan dink watse byname ek te danke aan my van gekry het, “Homer’ en ‘Bart’ en een dom aap het my eenkeer O.J. genoem, hy het nou nog berou nadat ek hom bygedam het. Ander het die letter ‘P’ uit my naam gehaal en my ‘Simson’ genoem… hulle het ek ook reggesien. Ek is nie ‘n bybelse figuur nie en ‘Simson’ was vir my ‘n swakeling gewees wat ‘n slegte dame toegelaat het om sy hare te sny wat ‘n Goddelike geskenk was.

Omdat ek vet was het ek baie byname gehad en my gunsteling was ‘Buddha’ want Buddha is ‘n simbool van vrede.

Ek is een van 5 kinders en hulle almal het my al byname gegee soos Alonzo (The Great), Alien, en Ahab. Die name is gegraveer in my hart.

Maar toe eendag op Facebook waar ek my middelnaam as ‘Wolf-of Shadows’ geskryf het, het ‘n klomp digters in ‘n diggroep my Wolfie gedoop. Die naam was baie spesiaal vir my aangesien die wolf baie spesiaal is in my Skotse Familie se familienaam betekenis. En ook, wolwe is spesiaal vir my oor ‘n geestelike les wat ek geleer het.

Een bynaam wat ek nooit van gehou het nie was ‘satanskind’… Net omdat ek anders is, omdat ek swart klere dra, (wat niks eers met godsdiens te doen het nie – ek is ‘n kunstenaar en swart is net negatief as jy ‘n negatiewe mens is), het mense besluit ek glo in Satan.  Satan is nie eers in my godsdiens nie. Ek is nie ‘n Christen, Moslem of in Judisme in nie en satanisme is te gaga vir my persoonlik. Die naam is aan my gegee deur gepeupel wat vergeet dat mens nie mag oordeel nie.

So ek is ‘n man van vele name, sommiges is littekens wat eens wonde was in my hart ander is geskenke wat in my hart gebêre is. Ek het genees van die slegte name, haat is nie vir my nie en ek glo in ‘n Hoër Gesag as ons mense wat met hulle sal rekenskap hou. Ek gee byname net in liefde, want liefde is die taal van die siel.

Vertel my van jou byname en gaan lees ook gerus Toortsie se storie.

(c) 2016 Allen Wolfie Simpson

Advertisements