Lank lank gelede was daar ‘n kind
Hy het soos ‘n veertjie gedwaal in die wind
Op die vlaktes het hy sy naam gevind
In die huilroep van ‘n nagwolf

Sterre soos edelgesteentes
Het die swartsatynnag volgelê
Vol van beloftes
En die kronkel pad van die melkweg het hom gewink…

Hy het die stories van Die Vloei vertel
Lang nagte sy kronieke gegraveer
Op kubermure dit gegrafitti
En sy kronkel pad geloop
En altyd gehoop

En soms in sy hoop
Is ‘n saadjie geplant
Dit het gerank na die sterre
En saam met hom gesoek na sy drome

Sommige drome is gevind
Sommige drome is gesteel
Sommige drome is gebreek
Sommige drome kom nog
Soos swaar wolke wat reën laat kom
Elke droom ‘n seisoen
En in elke een ‘n klippie
Van die kronkelpad
En altyd is hy die een wat steen vir steen
Sy toekoms ooppak…

(C) 2013 allen simpson

Ja, die gedig oor myself gekryf 3 jaar gelede. Nes skilders sefl portrette doen, doen digters dit soms….

Foto geneem deur die talentvolle Hanneliese Bredell

Advertisements