Nadat ek Hanneliese se blogartikel oor gevoel gelees het wou ek ook ‘n ietsie skryf oor gevoel.

Gevoel is ‘n digter se meesteres. Soms voel ek as digter ‘n diep magnetiese aantrekking as ek na die maan kyk wanneer sy soos ‘n ryp vrug vol hang in die lug, dan gryp ek pen en papier en die swangerskap van woorde wat die gevoel my gee, gee geboorte aan ‘n gedig. Die maan is net ‘n ronde bal in die lug, sonder asmosfeer en baie stof en rotse daarop maar iets in my wil uit wanneer ek daardie pragige stofbal sien. Ek is soos ‘n ink-weerwolf en bars uit my nate en transformeer in woorde…

Gevoel is ‘n digter se kompas. Soms sien ek ‘n bos bloekombome en wil net verdwaal in die reuse. Daar is iets magies mooi aan ‘n bloekomboom woud. Die bome laat my klein voel, en glo my ek is groot, massief te danke aan my boerebloed )en my liefde vir tjoklits hehehehe) maar die bome laat my voel asof ek ‘n muggie is. Ek wil dan net ‘n boom gryp en omhels en vir die boom my geheime fluister want ek voel bome is goeie luisteraars… hulle tjip nooit in as mens wil gesels nie en soms fluister hulle terug as jou hart oop is.

Gevoel is ‘n stem. ‘n stem wat praat van liefde. Daardie stem hoor jy as jou ma verby jou stap en haar hand ingedagte op jou skouer sit, jy hoor dit as jou kind opkyk van sy of haar speelgoed af en ‘n stil-glimlag vir jou gooi, jy hoor dit as jou worshondjie sy neusie in jou maag druk, opkyk na jou en liefdevol in jou skoot kom lê, jy voel dit in die stilte van ‘n tempel, moskee, kerk of sinagoge wanneer iets Almagtig jou aanraak in jou hart…

Luister… hoor jy dit… hoor jy wat my woorde vir jou sê. sjuuuuutt, wees stil… voel saam met my.

Liefde

Wolfie

(c) 2016 allen simpson
Dankie aan Hanneliese vir die inspirasie.

Advertisements