witvoshaar branders suis oor my sielsee
diep in die EK van my wese
ek, woordeling
gedenkstrome sleur my mee
woorde spoel roekeloos oor die rotse van my wil

in ‘n reverie van ekstase
gryp ek papier
roep oplossings in die ink van my hart
digter is ek
woorde bruis in my bloed
ek, woordeling
maar my beker loop oor
in konsonante, refreine
waar my kennis al paaie gestap het
waar my wysheid soms sy naakte onthou
ontbloot

ek, woordeling
want
aardling mag ek wees
maar my planeet is woorde

(c) 2013 allen simpson

Foto die alleen eiendom van Hanneliese Bredell en Allen Wolfie Simpson.