“Where I am, I don’t know, I’ll never know, in the silence you don’t know, you must go on, I can’t go on, I’ll go on.” Samuel Beckett

Ek het wat ek noem ‘n stil week. Dit is ‘n week wat ek ekstra min op my blog en die internet is, ek praat met so min as moontlik mense… EK is ‘n kluisenaar of probeer een wees. My stil week is September 19 tot 25. Die feit dat ek hier tik en praat is ‘n wonderwerk. Ek het ook ‘n stil week in Desember maar my stil week in September is die eina een. “n week van verlange, ‘n week van heimwee, ‘n week waar ek net doelloos rond dobber op ‘n see van stilte. Daar is geen storms nie, maar ook geen wind om my rigting te gee nie. Dis ‘n herdenking van ‘n swaar paar maande in my lewe.

En dan skielik op die 26ste September kom die wind weer en my bootjie vaar, ek kry rigting. Die verlange en onthou van moeilike tye word ligter. DIe ergste is dat die rede vir my week nie eers is omdat iemand my seer gemaak het nie. Ek het iemand ook nie seer gemaak nie. DIs net ‘n week van rou verlange, en ‘n week waar ek herhinner word dat ek deur ‘n vuurdoop gegaan het. ‘n Week waar ek onthou die lewe het my getoets en dat ek my beste gegee het. En waar ek die harde les geleer het van al probeer jy jou bes, kan jy niemand aan die lewe hou nie.

En dis okay. Jy is net ‘n mens…

Waarom ‘n mens ‘n stil week het is privaat, mens reflekteer die seer, die stof van moeilike gisters word stadig van die siel af geblaas teen die spoed van ‘n skilpad se stadigste loop, maar dit eindig. ‘N stil week is nooit ‘n week om jouself te blameer vir die verlede nie. Dis ‘n week waarin jy opniet besef jy is nie in beheer van dood, siekte, motorongelukke, kanker, jou eie lewe of ‘n ander sin nie. Jy doen net jou beste in die lewe. En vertrou op jou God, Godin of waarin ookal om jou die krag te gee om deur dit te gaan.

Ek breek my stil week, want ek is stil. Mense wonder hoekom. Dis okay. Op die 26ste breek die stilte regtig. Sien julle daar.

Het jy ‘n stilte week?

(c) 2016 allen simpson