In ‘n woestyn van glas en teer en pyn
ver van rus en ver van sonskyn
sit hy en wag vir genade
‘n almoesie wat val
hy hoor die mense, die lief en leed
die vrees van resessie en ekonomie wat vreet
is dalk net ‘n steen in hul pad
dalk net ‘n klip maar sy hart is sag

Hulle noem hom ‘agnee’ en ‘kry-‘n-werk’
‘fokkof-jy’ en ‘skoert-jou-snert’
hulle kyk hom met vrees in hulle oë
want die woestyn kan jou sluk en jy kan een word

In ‘n woestyn van karre wat doelloos ry
en mense soos pikkewyne wat na die wind jaag
sit hy in honger strate
en wense maak sy maag nie vol
hy was een van die mense, maar hy het vergeet
want die woestyn wou hom lankal op vreet
want sy pakket het lankal opgedroog
en hom versteen en uit gedroog

Hulle noem hom ‘agnee’ en ‘kry-‘n-werk’
‘fokkof-jy’ en ‘skoert-jou-snert’
maar hy was deel van ‘n ou ‘regime’
en in ‘n nuwe wêreld, wat hom vol haat bedien.

daar is meer soos hy op die straat
Sondag ry almal verby hulle
asof selfs ‘n god hulle haat
en samaritane is so min

want ons probleme maak ons blind…

tot die woestyn ook ons, fokken verslind

(c) 2016 allen wolfie simpson
met apologie aan perdebytjie

Digters Nota:
Arme Dina, ook bekend as Perdebytjie het nie geweet hoe haar fotos my geinspireer het nie en skrik dalk haar angel en vlerkies af as sy die gedig sien.

Die gedig is ‘n metafoor en gaan oor mense oor 40 jaar oud wat as deel van die ‘old regime’ gesien word en nie werk kan kry nie. Die gedig is nie gemik teen enige politieke instansie nie. Dis ‘n sosiale kommentaar en enige iemand wat rassisme of iets polities in die gedig sien moet hom weer lees. Die gedig beteken ook nie dat elke persoon oor 40 deur dit gaan nie. Dit vertel net ‘n storie wat geinspireer is deur wat ek van mense hoor op busse en op Facebook en Dina se pragtige fotos.

Gaan kyk gerus na die res van haar fotos hier: https://perdebytjie.wordpress.com/2016/10/08/klipman/

Dina, baie dankie vir die gebruik van jou fotos. Vandag was jy ‘n muse. Ek hoop jy vergewe my snaakse interpretasie van jou pragtige kuns 😉

Advertisements