Die mag van gewoonte

 

 

Jy was gemaklik. Gewoonlik kan jy bekostig om kos te koop, om die hele huis te voorsien. Jy betaal kos, water, elektrisiteit en die gewone maandlike rekening en het iets oor om jouself mee te ‘treat’. Daardie klein bederf wat so lekker is. Soms gooi jy petrol in die kar en gaan oor ‘n naweek op ‘n ‘outing’, jy weet, sommer ‘n rondry na ‘n museum of ‘n vlooimark.

Mense staak, ekonomie verander, pryse styg. Jy koop minder kos. Sekere kos wat net ‘n luukse eintlik is sny jy, soms kan jy jouself nogsteeds bederf en miskien dalk ‘n bietjie gaan rondry. Nog staak mense, ekonomie verander nog meer en pryse styg. Jy bel jou familielede minder want dit kos geld, koop die nodigste en jou bederf word die feit dat margarine dalk op ‘special’ is.

Dan gebeur dit na nog stakings, nog pryse wat styg. Jou kar gee in en jy moet die bus vat. Soms staak die busdiens in Pretoria en jy ry minibus taxis, wat seker okay is maar die pornografiese foto ‘n vrou bo die kombi deur laat jou wonder of die taxi drywer geen takt en beginsels nie. Genade, daar is kinders in die kombi. Fok!

Jou suiker vir jou koffie raak ‘n week voor payday klaar, en drie dae voor jy geld kry is die uie klaar.

Die mag van gewoonte? Ons raak al gewoond daaraan om elke dag minder te hê. Ons raak al gewoond daaraan om sommige dae niks kos te hê nie. Sommige van ons raak al gewoond daaraan om in karre te bly met ons vroue en kinders want ons is uit die huis geskop want ons het nie geld nie. Sommige raak gewoond daaraan dat hulle elke dag werk soek en nie kry nie. Sommige raak so gewoond daaraan dat hulle een aand langs die bed sit en te veel slaap pille drink, of hulle self skiet met rewolwers.

En na die selfmoord? Wie sorg dan vir die vrou en kinders wat agter bly.

Die mag van gewoonte? Wat is gewoonte as jou keuses om gewoond te raak van jou weg geneem word?

(c) 2016 allen simpson

Advertisements