Ek dink ek het ‘n mens verloor, regtig, ek dink ek het. Dit het twee jaar gelede begin gebeur. Ek het die mens gevoel wegsmelt… stadig maar seker. Vir oor die 40 jaar het ek en die mens ‘n lewe gedeel. Ons het saam geeet, gedrink, gelag. Ons was lief vir die selfde mense, het die selfde troeteldiere gehad, liefde gemaak met die selfde vrou.

Toe begin hy weg smelt… Die mens wat ek verloor het. Jy sien, ek is my hele lewe lank oorgewig en dit was nooit ‘n probleem nie. Ander mense het dit ‘n probleem gemaak. Mense het my gestop en my dieet raad probeer gee, ander het my gespot. Dit was nooit ‘n issue nie want ek is nie my liggaam nie. My ligaam is net vet, vleis en bene. Wanneer ek sterf (of vrek, want wolwe sterf mos nie), gaan my gees waar dit moet wees en my vet, derms, vel en bene gaan nie saam nie.

Maar nou het ek ‘n mens verloor. Hy het weg gesmelt. My klere is te groot vir my, my broeke val af. Ek was drie mense groot, nou is ek twee mense groot. Gewig verloor is om ‘n mens te verloor want weeg my gerus en die som totaal van my gewig is so groot dat miskien twee of drie van jou in my kan inpas….

Ek het ‘n mens verloor. Die gewig wat ek verloor het, maak my nie ‘n ander mens nie. Ek wil nie maer wees nie. Vir 44 jaar was ek vet en tevrede, en dus hou ek van myself. Ek wil nie te veel mense verloor nie, nie te maer word nie. Ek wil nie my identiteit verloor nie, jy weet, eendag in die spieel kyk en ‘n maer man sien terug staar wat ek nie ken nie. Ek like die vet ou wat vir my terug kyk in die spieel. Ek wil hom nie verloor nie.

(c) 2016 Allen Simpson
a iocus

Foto deur Hanneliese Bredell, geneem in Cullinan (2015)

Advertisements