Iemand vra my nou die dag: ”Wolfie, verbeel jou jy is toe gesluit in ‘n kamer. Daar is geen vensters of deure nie en in die kamer is jou grootste vrees. Beskryf wat is in die kamer. Wat is jou grootste vrees?” Die ding is ek het ‘n vrees en om die bliksem in die selfde kamer met my te hê klink na die element van ‘n Stephen King of Leon Van Nierop riller roman.

Ek is nie bang vir slange, spinnekoppe, paddas of rotte en die gewone goed nie. Maar as ek ‘n by sien naby my, raak ek histeries. Ek haat bye. Nou verstaan my mooi, ek respekteer hulle, want hulle dra stuifmeel van blom na blom en sorg vir die voortbestaan van plante en ek is absoluut-mal oor heuning. Ek is ook nie op die oomblik allergies vir hulle nie, maar as ek ‘n by te naby aan my sien, wil ek vlug.

As ek by jou kuier en daar is ‘n by en jy het ‘n swembad, is daar ‘n baie goeie kans dat ek met my groot logge liggaam teen die spoed van lig in daardie swembad gaan kry want dis al waar ek veilig teen die zoemende satanskind voel. Die vrees het begin toe ek as kleuter ‘n paar keer deur bye gesteek is.

Een keer was ons in ‘n kar, onthou ek, ek was so vier of vyf jaar oud en ons was van Glenharvie af oppad Fochville toe. ‘n by het in die kar beland en op my hand kom sit en my gesteek vir geen rede nie. Ek was nie die tipe kind wat insekte getart of gepla het nie. Die bliksem wou my net steek omdat dit ‘n satanskind is. ‘n ander keer het ek ‘n blikkie vrugte sap gedrink (ek was in standard vyf), toe voel ek iets kriewel in my mond. Ek het my vingers in my mond gedruk en dit uit gehaal. Dit was ‘n by en die bliksem het besluit om my te bedank omdat ek dit gered het deur my op my vinger te steek.

‘n ruk terug het ‘n bye kolonie besluit om op ons werf in te trek in ‘n ou leer stoel wat onder ‘n afdak staan. Die satanskinders het gereeld na my slaap kamers toe gekom en my probeer vermoor. Hulle het my worshondjie, Babatjie, gesteek en hy het by die dood omgedraai. Hy is erg allergies vir hulle. Ek sal nie in detail in gaan nie, maar ek het van die kolonie sluipmoordenaars laat onstlae raak.

Sit my in ‘n kamer sonder vensters en deure met bye en dis ‘n apokaliptiese oorlog en ek weet ek gaan verloor… EN jy wat hier lees, ek vra jou nou die volgende” Verbeel jou jy is toe gesluit in ‘n kamer. Daar is geen vensters of deure nie en in die kamer is jou grootste vrees. Beskryf wat is in die kamer. Wat is jou grootste vrees?”

Angel

nee, nie engel nie
jou geel gevaarte
jou angelmonster
zoem weg, satanskind
daar waar jy blomme vind
jou kamikaze insek
as jy my steek
gaan ons altwee vrek…

by, by
gaan verby
ek sal eerder
‘n spinnekop vry…

© 2016 Allen Wolfie Simpson

Die gedig Angel is uit my eerste digbundel ‘Tales from The Flow”

Fotografie: Hanneliese Bredell

Advertisements