“A little consideration, a little thought for others, makes all the difference” Eeyore, Winnie The Pooh

Haat is soos slym. Regtig, dit is en voor ek my argument met jou deel oor hoekom ek dit sê wil ek jou eers onvoer na die 80s. Onthou toe (want van julle is seker jonger) die fliek Ghostbusters het gewys in die teaters? Die fliek het mos gegaan oor vier nerds wat spoke probeer verslaan en een van die elemente was slym wat in die riool sisteem van die stad weggekryp het en geteer het op die mense se haat.

Hoe meer hulle gehaat het, hoe sterker het die slym geword…

Haat is soos slym. Dit kleef aan jou en as jy oor dit loop kan jy gly en as daar genoeg is kan dit jou dood maak. Ons as mense is geneig om mekaar te haat. Dit is makliker as om lief te hê. Toe 911 gebeur het in die VSA is baie Muslims soos slange behandel daarna, ‘nevermind’ dat net ‘n klein groepie Muslims verantwoordelik was vir die 911 tragedie.

Hier in Suid Afrika is daar ook haat. Politiek is ‘n Delila wat geheime en openlike haat wakker maak in mense. Daar is mense wat alles blameer wat verkeerd is op ander rasse. Daar is swart en wit wat heeltyd hammer op die verlede. Is die verlede se foute werklik so belangrik? Kan ons as mense nie voorentoe kyk en eerder nou oplossings maak vir ‘n beter toekoms nie?

Is ons vasgevang in die slym van haat en gister se spoke?

Ons het ons eie tipe Ghostbusters nodig om die spoke van ons verledes te bere in ‘n kassie waar hulle nie meer skade kan doen nie. Ek sê nie vergeet die gisterjare van ons land nie, maar is dit nie beter om te vergewe en aan te beweeg nie?

Ons moet begin leer en wysheid soek vir inspirasie. In die reeks Winnie The Pooh het die donkie Eeyore gesê “A little consideration, a little thought for others, makes all the difference”. Dalk is dit ‘n goeie beginpunt.

Kom ons was die slym af en wees lief vir mekaar. Kom ons wees lief vir mense al is hulle dalk anders as ons. En kom ons wees lief vir onsself.

Al is jy nou ‘n Winnie Mandela of ‘n Winnie The Pooh: Groei. Leef. Liefde.

Wolfie

© 2017 Allen Wolfie Simpson

Advertisements