Ek wil vir julle ‘n spook storie vertel. Nou van julle sal my sê dat daar nie so iets soos spoke is nie, maar ek kan wetenskaplik vir julle bewys vandag dat die spoke waarvan ek praat beslis bestaan. Julle is die spook storie al geleer op skool, maar sommige van julle het nie twee en twee bymekaar gesit en besef dat julle ‘n spook storie gehoor het nie, nie net ‘n spook storie nie, maar dalk die eerste spook storie in die heelal, in die geskiedenis van die heelal.

My spookstorie is miljoene jare oud…

Eerstens moet ons kyk na die term ‘spook’. ‘n spook is mos rofweg verduidelik as ‘n verskynsel van iets wat lankal al dood is, iets of iemand wat nie bestaan nie, reg? Vir sommige is dit iets bo die mens se vuurmaak plek, iets om te vrees en te respekteer… Wel die spoke waarvan ek julle vandag vertel, pas die beskrywing.

Waar ek hier sit en skryf, ‘n peinsende sigaret in my mond en ‘n whisky om die droog keel nat te hou (en nou dink julle ek is dronk, maar as julle die res hier lees sal julle besef ek is dalk nie) – dink ek aan presies tien minute gelede toe ek buite die huis was en gekyk het na die aand lug.

Dit was taamlik bewolk maar ‘n stukkie sterrehemel het deur gebreek en sterre het geloer na die aarde. Toe dink ek aan iets wat ek lank lank gelede gehoor het. Iemand het een dromerige nag vir my met haar hand na die sterre gewys en gesê dat wanneer jy na die sterre kyk, kyk jy eintlik in die verlede, dat baie van die sterre waarna ons kyk is al reeds dood… Ja die pragtige ligte waarna ons almal kyk en digters soos ek romanties oor skryf is lyke, sterre wat al lankal gesterf het.

Ons kyk na spoke… sommige miljoene jare oud.

Jy sien lig reis teen 300,000 kilometer, wat donners vinnig is, maar die sterre is so ver dat die lig lank vat om die aarde te bereik. Kom ons sê ‘n reeks komete crash in Canis Major in wat 8.6 ligjare van ons af is more oggend… Ons hier op aarde sal dit eers oor omtrent ‘n dekade sien. Nog iets om oor te dink is dat een van die sterre wat ons met ons blote oog kan sien genaamd Deneb in die konstellasie Cygnus, wat sowat 3,000 lig jare ver is se lig wat ons nou sien, het in die tyd van die Romeine na die aarde begin vertrek. Dalk is Deneb al verwoes gister en on sal eers oor 3,000 lig jare dit weet. Of dalk is Deneb nog daar. Wetenskaplikes beweer dat daar sterre is wat dalk binnkort sal ontplof, wel vir ons, want ons sal dit binnekort eers sien, al hoewel dit lig jare terug al gebeur het. Een voorbeeld wat hulle noem is die ster Betelgeuse in die Orion konstelasie (Dis 650 ligjare ver).

Van die sterre in die hemel waarna ons kyk is lankal dood… spoke… of jy my nou glo of nie, die wetenskaplikes sal dit beam. So is die naglig ‘n spook storie, daar gesit vir die mens om te bepeins. Glo jy nog nie in ‘spoke’ nie? Wat is verkeerd met jou!!?

Wanneer jy weer opkyk na die begrafplaas wat ons die aandlig noem… weet dit…spoke kyk terug na jou…

© 2017 Allen Simpson

Dankie aan Keith Van Zyl vir die inspirasie.

Advertisements