Muisneste: Stories van Muislandia

Storie 1

Deel 1: Die Prins en die Prinses word ontvoer, ontmoet die helde en die wyse uil van die Groot Boom

Eendag nie so lank gelede nie in die towerland Muislandia was daar ‘n edele en sagmoedige koning genaamd Vluks die Vyfde. Hy het regverdig oor die land regeer en was ‘n koning na elke muis se hart. Hy het met ‘n mooi muisprinses getrou, maar sy is jonk dood met hulle tweeling se geboorte. Koning Vluks het sy kinders, Prins Wip (Wipinus) en Prinses Snippie (Snipina) soos goud opgepas na hulle mamma se dood. Maar kort na die tweeling se sewende verjaarsdag het ‘n ramp gebeur. Die tweeling was geontvoer. Hulle persoonlike diensmeisie, Dana Diensmuis het gegaan om hulle te help aantrek en kon hulle glad nie kry nie. Sy het hulle gesoek todat sy ‘n brief in hulle speelkamer gekry het:

Beste Koning Vluks

Ek het jou kinders. Jy sal hulle nooit weer sien nie, Oor ‘n maand verjaar ek en dan gaan ek en my seuns gebraaide muis eet. Lekker huil.

Van Drokkgedrog die sand trol van Woesterland.

Die arme Koning Vluks het dadelik boodskappers uit gestuur oor Muislandia en die naaste twee buurlande Miniata en Vrugtavia. Die beste ridder van elke land het gekom en met Wysneus, die koning se raadgewer se hulp is uiteindelik vier vrywilligers gekies. Die vier gekose helde was Piep-en-Griep Rietmuis, die kabouter broers Stoffel en Pantoffel Boonsaaier van Miniata en Miemie Mangofeetjie van Vrugtavia. Elkeen van die het ‘n spesiale talent of towermag wat Wysneus laat besluit het hulle is reg vir die tog. Piep-en-Griep Rietmuis kan goed in die donker sien, Miemie die Mangofeetjie kan haar vyhand vir twee ure in ‘n mango boom verander (Sy kan klein klippies ook in mangos verander), Stoffel Boonsaaier het towebone wat tower dinge doen as jy dit plant en klein boet Pantoffel het tower mag oor plante vandat hy perongeluk ‘n towerboon ingesluk het toe hy klein was.

Vroeg die volgende oggend vertrek ons vier helde op hulle lang rys na Woesterland. Die eerste dag ry hulle sommer met die koning se koets na die Vlermuis Berge waar die vlermuise bly, en word daar af gelaai. Miemie het vier klippe opgetel en prewel ‘n towerwoord oor hulle en siedaar verander die klippe in sappige Mangos. Nadat ons vier helde die mangos geëet het begin hulle kamp opslaan om daar te deurnag.
“Moreoggend sorg ek vir ontbyt. Ek plant net een van my towerbone en in die oggend wag daar ‘n verrassingsontbyt op almal” Sê Stoffel geheimsinnig.
“En ek toor die saadjie om vinniger te groei” Sê Pantoffel.
Stoffel plant die saadjie en Pantoffel spreek ‘n towerwoord uit op die plantjie. Toe gaan almal bed toe.

Die volgende oggend is daar ‘n reuse boontjie rank waar die broers die saadjie geplant het. Op die rank is een groot rooi peul. Met baie groot moeite (die peul is baie baie groter as die normale boontjie peul) pluk hulle die peul af. Toe Stoffel die peul oopmaak is daar ‘n rooi mandjie in met ‘n vles koffie en boontjie bredie! Nadat die vier geeet het aan die tower gereg, het hulle besluit hoe hulle volgende gaan reis. Hulle gaan na Gustav, die wyse uil in die Groot Boom vir raad voor hulle na Woesterland gaan.

Hulle reis oor berge en dale, vleie en valleie voor hulle by die woud kom waar die Groot Boom is. Hulle stap tot by die Groot Boom en rus ‘n rukkie. Miemie toor weer ‘n paar sappige mangos op. Na ‘n heerlike ete beplan hulle hoe om by die wyse uil uit te kom.
“Piep-en-Griep? Is jy nie bang vir die uil nie? Uile eet dan muise!!! Vra Miemie bekommerd.
“Gustav eet al vir jare nie meer muise nie. Hy eet net rotte. Vandat Koning Vluks die vierde hom gered het van ‘n groep trolle van Woesterland bly Gustav in Muislandia en pas ons op teen die rotte.” Sê Piep-en-Griep met ‘n rustige glimlag.
Pantoffel gluur op na die Groot Boom wat soos ‘n berg voor hulle staan. “Hoe de muisnes gaan ons bo kom?” vra hy.
Miemie kry ‘n glimlag op haar mangorooi mondjie. “Ek sal ons bo kry, Moet nie komkommer nie, Pantoffel. Ek het feetjie poeier by die Koningin van Vruglandia gekry. Die poeier laat enige wese wat nie kan vlieg nie, vlieg. Al wat ek hoef te doen is om die poeier oor julle te strooi en my geheime tower woorde te sê. Sy haal ‘n oranje sakkie van haar gordel af en strooi dit oor die muis en kabouters se voete. Sy prewel ‘n tower woordjie en staan terug. Die drie voel hoe hulle styg en toe hulle twee sentimeters van die grond af is vat sy die muis se hand en vra die ander twee om hulle hande vas te hou. Stadig styg hulle op. Op en op, op en op, en alles word kleiner onder hulle. Na ‘n rukkie kom hulle by ‘n groot tak, en aan die einde van die tak in die boom se stam, is ‘n deur. Op ‘n spyker teen die deur is ‘n bordjie wat lees…”Die Uil is in. Roep net.”
Piep-en-Griep kyk na sy maters nadat hulle geland het en almal knik vir hom. Hy stap voorentoe en roep: ”Gustav! O Gustav wyse uil!”
Van binne die boom, agter die deur hoor hulle ‘n onaardse stem. “Woe…woe… wie is daar?”
“O wyse uil, Ek is Piep-en-Griep, ridder van Koning Fluks die Vyfde, ridder van die orde Persblom. Ek het gekom vir u wyse raad” Roep die muis uit.
Die deur kraak stadig oop en ‘n groot uil stap uit die donkerte van die boomgat. Hy staar stip na elkeen van die vier helde.
“Woe.. woe.. hello. Kom gerus binne.” Beduie die uil met sy vlerk en stap terug in.
Wanneer al vier in is, stel Piep-en-Griep almal voor en vertel die wyse uil wat gebeur het. Gustav sit lank na die ridder muis die verhaal vertel het en peins. Hy dink en dink totdat hy lyk asof hy slaap. Miemie wil net die uil begin wakker maak toe Gustav met ‘n sug opstaan. Hy stap na ‘n portret. Dit is ‘n skildery van Gustav en Koning Vluks die Vierde, die huidige koning se pa.
“My goeie vriend se kleinkinders is ontvoer… woe… woe… dis nie goed nie… ek dink ons moet na die goeie bosfeetjie in Woesterland vlieg vir hulp. Haar naam is Teresa en sy ken die hele Woesterland van bo tot onder. Sy sal die beste manier weet om die nare Drokkgedrog les te laat opse. Ek hoop julle is nie bang vir vinnig vlieg nie. Ek sal julle op my rug na haar toe vat.” Sê die uil, vasberade om sy vriend se klein kinders te help red.

Word Vervolg

(c) 1986 – 2017 Allen Wolfie Simpson

Fotos deur of Allen Wolfie Simpson of Hanneliese Bredell

Skrywers Notas:

“Soms skryf ‘n kind ‘n sprokie, sit dit in ‘n boks en vergeet van dit vir dertig jaar. Soms word daardie kind eendag 44 en ontdek ou feeverhale. Dit is wat met Muisneste gebeur het. EK weet nie of die storie goed is nie, maar is besig om alles oor te tik. Vir solank as wat ek twee of meer likes sien op my storie en ten minste twee mense wat met my deel oor wat hulle dink, sal ek die storie getrou hier opsit tot by sy einde.

Aj julle nie van die storie hou nie, is dit oukei. Nie alle stories is vir almal nie. Die storie was geskryf deur ‘n 13 jarige kind en ek deel dit net met julle. Die 13 jarige het sy eie storie baie van gehou. Iewers in my is hy gelukkig dat ek, wat ook hy is dekades later, hier is om sy storie te vertel”

Groete van Wolfie (13 jaar oud) en dieselfe Wolfie (44 jaar oud). Lekker lees, deel 2 kom dalk gou 🙂