Muisneste: Stories van Muislandia

Storie 1

(as jy nog nie Deel 1 gelees het nie kliek hier)

Deel 2: Vlieg op ‘n uil se rug, tower wapens teen trolle en donker figure in die nag…

Die vier klim dapper op die groot uil se rug. Hulle vlieg van die Groot Boom se woud in Muislandia oor berge en dale, vleie en valleie na die Wildewoud in Woesterland. By ‘n groot denneboom daal Gustav neer. Hy koer saggies in sy eie taal en net Miemie lyk of sy dit verstaan. Sy prewel saggies wat Gustav sê sodat die ander drie dit kan verstaan.
“Teresa, Teresa, hoor my stem, ontwaak uit jou boom, voor my probleme my tem,”
Skielik verskyn daar die mooiste feetjie wat Piep-en_griep nog ooit gesien het. Haar hare is so rooi soos herfsblare en haar oë, die sagste blou. Haar vlerke skyn liggeel glanse uit en haar rokkie lyk asof dit van die mooiste groen gras geweef is.

“Hallo Gustav. Hallo julle almal. Kom. Kom drink kersbessie tee met my in my boomhuisie en vertel my julle problem,” sê sy in ‘n stem, helderder as die helderste stroom water se geklingel.
In die Denneboom verskyn ‘n deur asof dit daar getoor is en almal gaan in. Toe almal in is kyk Pantoffel by die venster uit en sien dat hulle hoog in die takke is… “Dis snaaks, ons het dan onder in gekom” Dink hy verbaas.

Die viertal, die uil en Teresa sit op gemaklike kristal stoeltjies en drink tee. Piep-en-Griep kyk vol wonder na haar kas waarop allerande dinge staan. Alles lyk toweragtig. Daar is ‘n fles vol eiervormige goed wat blou gloei en ‘n boek wat kort-kort hoes, dan sien jy bladsye spat. Voor die bladsye op die grond val, verdwyn hulle.
Hy sug en dan vertel hy Teresa hoekom hulle deur sy koning gestuur is.
Teresa luister en knik stadig haar kop om te wys dat sy verstaan.
Toe Piep-en-Griep klaar vertel het word Teresa bleek van woede. “Die gemene Drokkgedrog en sy sleg-seuns Drek en Vrek moet ‘n les geleer word” Sy swaai haar vuiste vies in die lug.
“Ek gaan julle help. Ek het towergoed hier wat julle kan gebruik,” sê sy, vlieg op en verdyn dieper in die boom in.
Die viertal en die uil kyk na mekaar. Nuuskierig oor watse hulp sy vir hulle het. Na ‘n paar minute kom sy terug met twee groen pakkies in haar hande.
“Hier is vier towerringe en vier tower sakdoeke in.” Sy maak die een pakkie oop. “Piep-en-Griep, ek gee jou die ring van Water. Trolle is allergies vir water. As julle aangeval word, kan jy die grond onder hulle in water verander deur net na hulle te mik en ‘Retaw’ te skree.” Sy gee ‘n ring vir die muis. Dit is ‘n silwer ring met ‘n blou steen op. Die muis sit dit aan sy een vinger en dit krimp om om sy vinger te pas. Hy knik na haar verbaas.
Sy stap na Stoffel. “Stoffel, jy kry die ring van die Aarde. Dit kan jou help om ‘n diep sloot tussen jou en die trolle te maak deur net die woord ‘Edraa’ te skree.” Stoffel vat die ring, en dit krimp ook om sy vinger te pas. Hy gaan sit stil op sy stoel en kyk na die ring. Dit is ‘n silwer ring met ‘n tieroog-steen.
Sy draai om en loop na Pantoffel. “Pantoffel, ek gee jou die ring van Vuur. Jy kan ‘n vuurbal op jou vyhande afstuur deur net ‘Ruuv’ te skree. Pantoffel vat die ring. Die ring is silwer met ‘n oranje steen. Laaste draai sy na Miemie. “Miemie, deur ‘Dniw’ te skree kan jy ‘n tornado op die trolle afstuur.” Miemie staar na die ring. Dit is ook silwer en het ‘n deursigtige steen op.
Teresa steek haar hande uit. “Julle moet versigtig met die ringe werk. Dit is wapens gemaak om net met trolle aftereken maar hulle werk net een maal ‘n jaar. Die Dwerge wat die ringe gemaak het het dit so gemaak anders kan slegte persone baie skade doen met die krag van die ringe.” Sy haal vier wit sakdoeke uit die ander groen pakkie. “En nou die sakdoeke. Om by Drokkgedrog uit te kom moet julle deur die Dal van ‘n Duisend Reuke gaan. Dit stink maar vir solank as wat julle die sakdoeke aan julle het sal die reuke julle niks aandoen nie. Al wat julle moet doen is om die sakdoeke om julle regter polse te bind. Julle het nou die mag van vier elemente om julle te help teen die trolle. Moet dit nie misbruik nie, ander kan dit julle eers oor ‘n jaar weer help en dan is dit te laat.”
Piep-en-Griep sluk. “Hoe kan ek dankie sê…” begin hy praat.
“Red die prins en prinses en gee die trolle hel. Dit is dankie genoeg.” Stop Teresa hom en glimlag gerustellend.

Daardie aand rus hulle in die bosfee se boom. Die kamers binne is so groot dat hulle wonder hoe dit gebeur, want die boom is groot, maar nie so groot nie. Pantoffel mompel iets van dimensies en gaan bed toe.

Die volgende oggend is hulle vinnig op. Hulle eet ‘n vinnige ontbyt van sampioenbredie en suurlemoengras tee, sê totsiens vir die uil en Teresa en begin loop in die rigting van die Dal van ‘n Duisend Reuke. Die dag reis hulle sonder groot probleme. Teen laat die middag groet torings en geboue hulle in die verte…
“Dit moet Trollopak wees”, fluister Stoffel. ‘Dit is Woesterland se hoofstad en een van die stad se hekke is die ingang na die Dal van ‘n Duisend Reuke. Dit was glo eeue gelede ‘n dal, nou is dit ‘n woestyn… en dit stink.”
Piep-en-Griep stel voor hulle slaap in ‘n herberg vir die aand voor hulle na die ‘Dal’ vertrek. Hulle vind ‘n ou herberg, met ‘n bordjie wat iets in die trolle se taal sê maar nie een van die vier kan troll lees nie, net praat. ‘n Gawe ou trol tannie nooi hulle in. Hulle betaal vir die aand se verblyf en gaan na die herberg se eetkamer vir ete. Die trol tannie, haar hare al grys en haar een slagtand wat uit haar onderlip uitsteek glinster met ‘n stukkie goud op sy punt, kloek goediglik. “Dit is lank vandat ek ‘n muis of ‘n kabouter in my herberg gehad het. Laas toe hier ‘n muis was was ek nog jonk. Gie gie gie” Kekkel die tannie in haar kraai stem. Sy skep vir elkeen ‘n bord kos uit ‘n vuil-pers pot. Die vier kyk die groen brousel wat sy hulle gee in hulle borde suspisiees aan. Pantoffel proe versigtig daaraan. Hy glimlag en plesier vul sy kabouter gesig…
“Dis lekker! Proe soos spinasie en aspersies!” Gou begin almal eet toe hy wegval aan die kos.

Daardie aand sluip twee donker figure Piep-en-Griep se kamer binne. Hulle reik uit en gryp na hom…

Word Vervolg

(c) 1986 – 2017 Allen Wolfie Simpson

Fotos deur of Allen Wolfie Simpson of Hanneliese Bredell

Skrywers Notas:

“Soms skryf ‘n kind ‘n sprokie, sit dit in ‘n boks en vergeet van dit vir dertig jaar. Soms word daardie kind eendag 44 en ontdek ou feeverhale. Dit is wat met Muisneste gebeur het. Die storie was geskryf deur ‘n 13 jarige kind en ek deel dit net met julle.  Iewers in my is hy gelukkig dat ek, wat ook hy is dekades later, hier is om sy storie te vertel”

Groete van Wolfie (13 jaar oud) en dieselfe Wolfie (44 jaar oud). Lekker lees, deel 3 kom dalk gou

Advertisements