Weet jy, tekens is snaakse goed. Baie mense dink dit is kaf maar soms wonder ek. Toe ek in Standerd Vyf was het ek en my ouers by die Debengeni waterval in Magoebaskloof gaan piekniek hou een Sondag. Die waterval was ‘n prentjie en het baie poele gehad waarin mens kon swem. Ek het in hulle geboer. Ons het ook ons koeldrank koel gehou soms in die stroom deur dit in visnette in die stroom te bere want die water was kouer as gewone water by die waterval en die water was so suiwer want dit het direk uit die beg gestroom na onder in die vallei. Almal het ‘n vlaggie sisteem gehad waar mense gemerk het daar is koeldrank in die stroom is en dit was ‘n lekker manier vir almal om nie perongeluk raak te trap nie.

Die keer was iets anders… ek het alleen op die een hout bruggie gespeel en ‘n diep hartseer, vir geen rede nie, het my getref. Asof ek iets vir ewig verloor het. Ek het net nie geweet wat nie. Ek het gehuil en my gesig in die koel water gewas. Later is ons huis toe. Daardie Maandag is ek skool toe en toe is daar afgekondig dat my maatjie Leon Saterdag dood geval het by die waterval.

Leon het ‘n foto gaan neem op ‘n klip van die waterval. Hy het gegly en… Dit het ‘n dag gebeur voor ons na die waterval was. Ek het eers Maandag gehoor van Leon se dood. Snaaks dat ek ‘n dag na sy dood by die waterval was en daardie diep gevoel van hartseer en ontneming wat my oorval hett. Soms huil ons oor iets, ons weet nie hoekom nie. Dalk het iets in my, Leon se dood gevoel, dalk was dit ‘n stukkie van Leon se siel wat my aangeraak het, ‘n spook van wat hy was. Ek weet net wat ek gevoel het.

Soms huil ons en ons verstaan nie hoekom nie. Dit is ‘n teken en soms kan mens net nie ‘lees’ wat die teken se nie, maar daar is ‘n rede voor. Daar is ‘n subtiele sensitiwitiet in ons. Wat met my gebeur het was nie ‘n ‘voorbode’ nie, as ek dit moet iets noem was dit ‘n ‘agterbode’, want dit het gebeur na Leon se dood…

Tog het ek vrede. Ek voel dat omdat ek iets gevoel het sonder om dit te verstaan en daarna gehoor het hoekom ek dit gevoel het, het my ‘n mate van sluiting gegee. As jy soms huil en nie weet hoekom nie, en weet dis nie depressie nie, moet nie bekommerd raak nie. Jy huil dalk soms vir iemand… EN selfs al vind jy nie uit nie. Wees bly jy het emosies. Emosies is ‘n geskenk al weet jy soms nie hoekom nie. Die tekens is soms vaag, maar vir elke teken… is daar ‘n rede. Of dit nou voortekens of natekens is…

Tersluiting… ek het al baie keer tekens gekry. Al van mense gedroom voor hulle sterf. Voorgevoelle gehad voor ongelukke en slegte mense met slegte intensies aangevoel, maar die ‘nateken’ sal altyd vir my spesiaal wees…

© 2017 allen wolfie simpson

Foto geneem te Pretoria Botaniese Tuine

Advertisements