I

Bitter die koue en die harte
van die vergetenes en vergete

Op die kassie en in straatgeskrifte
huil die narre en doem profete

II

Slaapwandelaars wat soos beeste
na die slagpales, wandel
op die beloftes van teer

Robotte flikker rooi, oranje, groen
slaapwandelaars ry
en die een wat verloor is ‘n koue pampoen

die pad is lank en seer
grys en blou die teer
tot die einde jou verteer

III

Bitter die koue in die harte
van die wat wandel en slaap
die pad is lank en seer
tot dit hulle verteer

(die wyse pak hulle tasse
en vlug na die berge
selfs hulle kyk op en wonder
wanneer…)

Op die kassie en in straat geskrifte
het sirenes lotusse uitgedeel
dwase het dit opgevreet:
(wie sal die waarheid weet?)

(die wyses in die berge
sug en ween
of sê dankie vir die gode
terwyl doodsbeendere reën)

IV

Ver bo die wêreld
verskiet die sterre
en bly blind

Ver bo die gepeupel
verskiet die gekose
soos bitter springmielies

Die lewe is een lang fliek
en die akteurs is vasgevang
in gisters se ou dialoë

V

Bitter die koue en die harte
van die blindes wat kan sien

hulle bly waarsku:
(wie sal die waarheid hoor)

VI

Wie sal die waarheid hoor

Wie sal die waarheid sien

(c) 2017 Allen Wolfie Simpson

Geskryf in ‘n spesiale grot