want soms moet mens die skoenlappers laat dans
want soms moet mens verlore raak, saans
wannner die Skemer kom groet in Haar glorie
soms moet mens deurhou tot die einde van jou storie.

soms is bladsye net ver-frommelde lyke van iets wat jy wil sê
soms is die liefde net ou geparste blomme, nê
soms is jy hier maar meestal is jy weg
en dan vind ek jou in ‘n konstellasie
iewers in die melkweg

soms moet ek my masker net ophou
anders gaan die wind my trane wegwaai
want elke traan is ‘n finale koebaai
en ek wil hulle koester, in my toedraai

want soms moet mens die skoenlappers laat dans
want soms is daar vryheid net in die oomblik
en soms, net soms is die oomblik soos ‘n glimlag
te gou verby…

ek sien my maer jare
ek sien my vet jare
ek sien my alles jare
en sug in my niks jare

want soms moet mens die skoenlappers laat dans
want soms moet mens verlore raak, saans
wannner die Skemer kom groet in Haar glorie
en so eindig ook my storie.

(c) 2017 allen wolfie simpson

Advertisements