EK skryf vir jou ‘n goodbye want dit is tyd om te groet
die gisters was te kort en die nou-oomblikke te lank
my bruin hare het grys-as geword
en my oë is wasem as ek deur hulle kyk
jy was altyd daar vir my…

ek skryf vir jou ‘n goodbye want die tyd raak al kort
my kers is al opgebrand en net ‘n kort stukkie bly oor
dit raak donker en ek is bevrees binnekort
gaan ek in daardie donkerte verdwyn
en ek wens ek kan jou hand vas hou…

Ek skryf vir jou ‘n goodbye want my asem raak swaar
my longe wil rus en binnekort gaan hulle moeg lê
en nie weer gaan hulle opblaas vir ‘n laaste asem nie
ek is nie bang nie
ek wil ook rus…

Goodbye, jy wat altyd daar was vir my
al het ek jou jare laas gesien
het jou foto my vasgehou
ek weet jy sou kom kuier
as jy net nie so besig was nie.
EK het jou lief, so ek glo in jou
ek weet jy sou kom.

Die brief gaan ongelukkig te laat by jou uitkom
maar weet dat ek lief is vir jou
ek is trots op jou.
my hart pyn
ek moet gaan

goodbye…

(c) 2017 allen wolfie simpson
vir die vergetenes…

Advertisements