“ek het paartjies gesien wat in deure soen
en omdraai met oop monde ek het oor
brûe geloop en mense daaronder gehoor hoes
ek het grysaards gesien wat in taxi’s ry
en deur reëndik ruite uitkyk na geboue wat
nie meer daar is nie. sneeu in die winter
en druiwe in die somer maar ek
onthou nie meer veel daarvan nie

ek het die middernagson gesien en
voëls van alle groottes en visse in die
water en die suiderkruis bo ‘n berg en
katte met stewels en dronk vroue en
bome naak van bloeisels. sneeu in die winter
en druiwe in die somer maar ek
onthou nie meer veel daarvan nie

ek het ook hane hoor kraai en
die roep van treine en stemme in my
bed en gode op die dak en ek het
drake gesien in dieretuine en die baarde
van vriende en ek het die son geruik.
sneeu in die winter en druiwe in die somer
maar ek onthou nie meer veel daarvan nie
maar ek onthou nie meer veel daarvan nie”

Breyten Breytenbach se ‘verslag’

Nog ‘n mengelmoes van kuns wat ek geniet. Die gedig en musiek is nie myne nie, my siel dans net rond in dit. Die foto is ‘n selfie van my en die kat LadyVine.

Liefde,

Wolfie