Die Prys van Vergifnis

Die Prys van Vergifnis

Welkom by my storie Die Prys van Vergifnis, my eerste reeks verhaal in Afrikaans op my blog. Ek hoop julle geniet dit. Lekker lees.

Die Prys van Vergifnis deur Allen Wolfie Simpson

(1)

Lesley Dominic sien eers die Koraal Boom. Vir haar is die pragtige boom asof sy vlamrooi blomme soos vuurtonge is, en die Koraal Boom se takke reik uit na die lug in smeking om nie dood te brand nie. “Dis ek,” dink sy sugtend. “Ek verdien om te brand vir dit wat ek gedoen het – aan Ben…”

Langs die Koraal Boom staan ‘n karavaan, sy eens blou verf afgedop, die syl tent van die karavaan verweer na ‘n kleur wat miskien bruin was, miskien geel. ‘n Lelike vuilwit kampeer stoel en ‘n skinkbordtafeltjie is al wat onder die syl tent staan. Voor die tent is ‘n bordjie opgehang en snaaks genoeg is die verf nuut. Swart letters op ‘n wit agtergrond. “Vergewe en Vergeet kan gedoen word.” Onder die geskrewe is ‘n Buddistiese yin-yang teken geverf.

Lesley dink aan haar kinderjare toe daar vir haar op Sondagskool geleer is dat die yin-yang teken ‘duiwels’ is en sy giggel. Jare later het sy uitgevind dat dit net ‘n simbool is van ‘n Oosterste geloof. Sy sug as sy dink hoe bygelowig mense is as hulle iets nie verstaan nie.

Vergewe en Vergeet” Die woorde maal in haar kop. Sy dink aan wat sy gedoen het. Spyt en skuldgevoel skud deur haar. Haar gemoed voel asof dit elektries geskok word. Sy steek ‘n sigaret aan om moed bymekaar te skraap voor sy gaan uitklim uit haar kar. Sy sit die radio aan vir kalmte.”These arms of mine, they are lonely, lonely and feeling blue”, sing Otis Redding op die radio. Bitter sit sy die radio af. Die liedjie herhinner haar net dat dit is hoe haar problem begin het. Haar alleenheid.

Dit het begin vyf maande gelede. Ben was ver weg in Puerto Rico, besig om namens Doctors Without Borders mense verniet te dokter na ‘n orkaan die gebied plat gelê het. Sy was trots op hom, maar so alleen. Ben was altyd eerste om vrywilliger te speel en mense te help en Lesley het alleen agter gebly, sonder sy hitte in haar bed, sy warm arms om haar lyf. Sy was selfs jaloers op al die vrouens wat hy moet dokter in die verte.

Om die leemte te vul het sy besluit om te gaan vir kunsklasse. Sy was goed met teken, maar wou haar talent slyp. Sy het nie nodig gehad om te werk nie, Ben Dominic, haar man, se praktyk het goed gedoen en boonop was beide hy en sy gebore uit ‘ou geld’. Sy was die enigste erfgenaam van die Steinberg-landgoed, en haar neef, Jeandries wat die wynery vir haar en sy gesin bestuur is ‘n goeie besigheidsman en lojaal teenoor haar en sorg altyd dat haar deel geregtig na haar toe kom.

Sy het rond gesnuffel op die internet en die koerante en ‘n kuns klas gevind. Die man wat dit aan gebied het was Arno Joubert, ‘n sukkelende maar talentvolle kunstenaar. Dit was nie lank daarna nie wat haar kunsklasse begin eindig het in drankies drink en gesels. Hy was ‘n wewenaar en sy seun wat by hom gebly het was’n reg student en meestal nie daar nie. Een aand het die wyn haar gevang, sy het amper geval en Arno het haar gevang. Daardie arms om haar middel, daardie manlike krag het haar gesmelt en ‘n kreun het uit haar mond ontsnap. Sy het Arno gegryp en en half besete begin soen. Die arme man het ‘nee’ gemompel maar sy lyf het hom verraai en ja geskree. Wat gevolg het was ‘n aand van die beste seks wat sy in jare gehad het.

In plaas van om te stop het sy Arno oortuig dat hulle moet saamslaap, weer en weer. Dit was nie liefde nie, dit was net twee mense wat die alleenheid wou toemessel met hulle liggame. Sy het hom gesê dat sy Ben nooit sou los nie, dat Ben die liefde van haar lewe is. Arno was ook nie gereed vir iets dieper nie, hy was nog steeds so lief vir Annie, sy oorlede vrou, maar, het hy geantwoord, hy het ook drange,ook maar net ‘n mens… Vir maande het hulle skelm ontmoet, wanneer Ben tuis was vir ‘n naweek of week het dit gestop, want haar Ben was tuis! Maar skelm verhoudings het hulle eie lokvalle. Die genot om nie uit gevang te word nie, vir sommige ‘n bekoorlike dwelm…

Maar eergisteraand het iets soos ‘n bom hulle getref. Arno se seun het vroeg by die huis gekom. Hy het geweet van haar as een van die mense wat Arno kuns onderrig gee. Hy het ook geweet sy is getroud want sy het oor Ben gepraat al by hom. Arno se seun, Shaun het nie geweet van hulle verneukery nie. Shaun het hulle betrap op die rusbank. Haar bloes was af en sy hande het aan haar borste geraak.

Shit pa!” het Shaun uitgeroep. Arno en Lesley het opgekyk en Shaun gesien. Lesley het Arno se hande weg gestamp en haar borste toe gehou met haar arms.

S-s-shaun!” het Arno gestammel.

Pa! Sy is getroud. Wat de hel dink julle doen julle,” het hy gegil, omgedraai en ‘n oomblik later het die voordeur toegeklap.

Vanoggend het Arno haar gebel. Shaun het sy goed gevat en vir Arno gesê hy bly nie by huwelikbrekers nie. Shaun het ook gesê hy hoop sy pa het dit nie aan sy ma gedoen toe sy nog gelewe het nie. Arno was verpletterd.

Demmit!” vloek Lesley sag agter die motor stuurwiel. Sy druk die sterwende sigaret dood in asbakkie en kyk weer na die bordjie voor die tent. “Vergewe en Vergeet kan gedoen word.”

Vergewe en vergeet… yeah right,” mompel sy, klim uit haar kar en maak die deur stadig toe. Miskien, net miskien kan die persoon in die karavaan haar help. Sy moet iets doen. Arno se seun is besig om hom af te skryf en ook, wat as Ben op ‘n manier uitvind! Sy was dom om agter sy rug ‘n verhouding te knoop met ‘n ander man. Sy is lief vir Ben! Terwyl sy loop na die karavaan kyk sy weer na die vlammende boom, sy hoop dit is nie profeties nie.

Onder die syl tent van die karavaan huiwer sy. Sy sug in oorgawe. Dis nou of nooit. Sy klop saggies aan die karavaan deur.

(c) 2019 Allen Wolfie Simpson

Geen karakters in my storie bestaan nie, behalwe in my brein. Alles hierin is fiktief behalwe die liedjie ‘These arms of Mine’ deur Otis Redding. Enige ooreenkomstige met werklike persone of gebeurtenisse is totaal per toeval.

Kliek hier vir deel 2

Advertisements