Daar was ‘n tyd in my lewe wat ek 2 tot 3 boeke ‘n dag kon oplees. Ek het op ‘n Saterdag of Sondag ‘n Dean Koontz, Stephen King of Leon Van Nierop of drie gegryp en net gesit en lees. Toe kon die internet en DVD TV-Reekse en flieks en die lewe en steel my ‘boekwurmgeit’. Tegnologie het my beroof.

Ja, ek lees nog baie. Ek lees minstens 45 webwerfbladsye minimum as ek vir die vermaaklikheidsnuus webwerf waar ek werk wil artkels skryf, ek lees gedurig Wikipedia en soms verkoop ek my siel deur die nuus te lees (ek haat nuus, depresief, ek weet.)

Ek mis stories lees, die laaste storie wat ek gelees het was my eie een, maar ek wil ander se stories ook lees. Verder wil ek ook myself weer verloor in my blog vriende se pragtige stories. Dus begin ek ‘n uitdaging (‘Challenge’ vir die Afrikaners wat die woord vergeet het want hulle meng te veel hulle Engels en Afrikaans, ja ek praat van jou, jy wat jou oê vir my rol).

Die #LeesMetGees Uitdaging (seksie naam vir dit, ne) werk so:

  1. Ek gaan ‘n boek begin lees (Ek het Stephen King se Duma Key gekies).
  2. Ek gaan begin deur minimum 20 minute ‘n dag van die boek te lees. As ek meer tyd het, gaan ek meer as 20 minute ‘n dag lees.
  3. Ek gaan minstens een artikel ‘n dag (of meer) lees van ‘n blog en my vriende ondersteun.
  4. Ek gaan dan hier so gereeld as moontlik julle vertel hoe dit gaan met my uitdaging, en ek gaan ook blogadresse deel wat ek besoek het.
  5. As ek boek een (Stephen King se Duma Key) klaar gelees het, doen ek ‘n tweede boek.
  6. My mikpunt is om ten minste meer as 5 boeke klaar te lees in 2019. Dis ‘n klein mikpunt, ek weet want ek lees gewoonlik meer as 100+ boeke ‘n jaar.

As iemand saam met my wil #LeesMetGees is julle welkom. Kies julle eie boek of lees Duma Key met my. As julle wil noem op julle blogge dat #LeesMetGees my idee was, dit sal ‘n groot kompliment wees. Net as julle wil.

Die uitdaging vir my begin amptelik op 04 Mei 2019. Hou vir my duimvas en kyk uit na my verslag oor hoe ek vorder. Lekker lees wat julle ookal lees en #LeesMetGees. O ja, vertel my watter boek jy op die oomblik lees en wie dit geskryf het, miskien sit ek dit op my leeslys.

Groetnis,

Wolfie