Hoe skryf mens moeg op sosiale media
as jy moeg is vir al die pyn
mens sien net geweld
winkels wat brand
kinders wat weg is
vroue aangerand

hoe skryf mens moeg op twitter en facebook
as jy moeg is vir haat
wanneer mense net wil moor
en mens net versmoor
in die kookpot op jou skerm
en die nuus net onlus kerm

Hoe moet mens opstaan
en wag vir ‘n bus
en hoop jy kom lewend by jou werk
hoekom moet jy kinders kry
as jou wêreld vergaan
in vuur en as en traan

hoe skryf jou moeg aan die einde van
‘n gedig?
my hart trek swaar
skemer is in sig
hoe skryf jou moeg aan die einde van
‘n gedig?

(c) 2019 Allen Wolfie Simpson
moeg…

Advertisements