Soek

wolfshadowwhispers

'n venster na 'n ander wêreld

Tag

lewe

mara

Stilte verdwaal in die seerste bos
pyn dans en wil haar nie los
mara in haar hart
vallende sterre smart
wense breek, of is versteek

Bitter mara trane val
en breek deur die wal

‘n Cinderella verhaal
waar die glaskoen haar voet afhaal
sy is in twee geskeur
soos ‘n Salomo baba seer
drome is net as, stukkende hart van glas

bitter mara trane brand
klowe deur haar sagte kant

daar was ‘n aspoestertjie
het haar alles gegee
haar prins gevind
en hy het haar op sy jeep gelaai
haar blou en pers elke aand gelos

bitter mara trane waai in die wind
haar lyk is die volgende oggend gevind…

(c) 2013 allen simpson
op versoek vir iemand baie spesiaal wat iets donker en hartseer gesoek het…
xxx

Advertisements

net simpel liefde

skryf my jou liefde
sommer op ‘n oliebevlekte vis en tjips papier
teken hartjies waar olie kolle versier

druk ‘n rooi soen sommer onder dit by
liefde is eenvoudig
sonder tierlantyntjies by

ek soek nie duur geskenke of ‘n kerslig aand
net jou hart gevleg in myne
en dalk ‘n simpel stink kakiebos tak
want selfs die minste moeite
maak die meeste saak

skryf my ‘n gedig
sommer met jou oog
as jy kyk in myne
met jou siel
sien ek net ‘n reënboog

liefde is simpel, eenvoudig
net gee
wat jou hart ken
en dis dieper as die blou blou see

(c) 2013 allen simpson

Fotografie: Hanneliese Bredell

net ‘n stukkie

ons is almal soos geestelike mense sê
net ‘n stukkie
‘n piece of the puzzle

maar, dink ek
sonder liefde en vrede
is die stukkie leeg en pas nie
siele is nie net van glas nie

bewaar jou siel
hou jou mond vir vrede
en praat net in die gebeds-oomblike
oor wat jou pla
as jy iemand nie verstaan nie

jy is net ‘n stukkie
in die Groot Legkaart
en dit is nie jou toe vertrou
om die stukkie in te heg nie…

net die Groot Legkaartbouer ken
waar jy hoort….

(c) 2015 allen simpson

naak

lluvia

waar sterre verlore wag
op die volmaan nag
wanneer stormwolke hulle glinsteringe wegsteek
en net ‘n weerligstraal die naglug breek
daar in die grys
dans ek naak
in my hart

(c) 2013 Allen Simpson

die laaste een…

renoster

Wanneer hy sy laaste asem gee
en ruik net bloed in die pyn-see
geskend
gemartel
verneder

onskuld verwronge
die mensdom is boos

renoster, renoster so deur die bos
iewers kook ‘n sangoma nou lekker kos
hy roep so lekker ‘n tokkelos

die laaste renoster se kop is af gekap

(c) 2013 allen simpson
verbitterd moeg vir renostermoord… en dit is moord…

Prentjie by muurpapier webwerf gekry

Ruspe

Is ek ruspe op soek na my kokon?
is ek net ‘n droom van ‘n skadu in die son?
is ek ‘n sandkorrel wat hunker na pêrel word?
Is ek ‘n wêreld wat nog verken moet word?

ligstrome bars waar die son op my skyn
tot ek verdamp en in wolke verdwyn…

Is ek ‘n droom in ‘n droom
‘n figment van verbeeldingsvlug?
is ek die nar op die koning se troon?
is ek die lap of is ek die kroon?

ligstrome bars waar die son op my skyn
tot ek verdamp en in wolke verdwyn…

Is ek ruspe op soek na my kokon?
is ek net ‘n droom van ‘n skadu in die son?

(c) 2015 allen simpson

Prentjie van ‘n muurpapier webwerf

ai die Pokkeltjie

Ons het ‘n vyfde troetel dier… soort van… daar is ‘n duif wat altyd in die kombuis in sluip en ons honde se kos steel. Ons honde en kat los die duif gewoonlik uit. Ek het haar Pokkel gedoop. Continue reading “ai die Pokkeltjie”

soos ‘n fluister

corpse-bride-movie_73179-1920x1080

haar verlate heuwels waar vingers eers gedwaal het
haar verlore warmte waar intiem aanrakings verlore kon raak
haar sugte nou droog en gemummifiseer soos ‘n Tutankhamen
sy is ontbloot soos ‘n reliek in ‘n museum
verlate, gebroke, alleen

leeg die dorre woestyn van die bed
asof die kooigaping
‘n bewys is van ‘n amputasie van liefde
as sy ‘n woud was
is die bokke vrek en die lowergroen
nou roesbruin duine

want sy het die judaskeuse gemaak
op haar troudag haar bruidegom se beste vriend
se vrank druiwe geeet
en geheime het gedrup soos ‘n slang se gif
en alles weg gebrand

’tot die dood ons skei’ het weergammel
soos die skoot van die rewolwer
teen haar bruidegom se kop
toe hy, gebroke sy stem laat gaan het
soos ‘n fluister in die wind…

(c) 2015 allen simpson
Gebasseer op ‘n tragedie

doodskaduwee

doodskaduwee

donkerkamers agterstraats
verloor sy haarself en haar geskenk
bang was sy om in die wrede wêreld
alleen lewe te gee
maar by ‘n wasbak
bly sy haar hande was
en wonder was dit haar reg
om ‘n gekenk weg te maak
in die vallei van doodskaduwee
is almal sielnaak…

(c) 2013 allen simpson
die persoon in my gedig is net ‘n karakter en reflekteer nie my sienswyse oor die saak nie. As kunstenaar wil ek net buite die verhaal ‘n verhaal vertel.

Prentjie gekry van ‘n muurpapier webwerf af

post-apokaliptiese blues

the-starry-night-scream-by-mgmirkin

sout verslaan tot niet en word maar stof
groen gras dor en roet is al wat jy kan sien
mure kraak en poeier-val op stukkende vloer
lewens as-tot-as, al wat is – is bitter spyt

eendag was, maar is nie meer
boklam verstoot, boklam dood
en elke uurglas verloor die uur

elke blom verrot op ‘n Van Gogh
elke oomblik bleek
dit is die wêreld as ons hom breek
dit is die wêreld as ons hom breek…

(c) 2013 allen simpson

Kuns : mg mirkin se ‘starry night scream

modderkoekie

in slyk het jy my uit gekrap
en met dom hande koekies gebak
die slykmodder was net te pap
en ek, modderkoekie was vertrap

ek het droog geword
die wind het my verwaai
my grond geneem na ander lande
waar net vrugbare grond koning kraai

in my het saad opgeskiet
die mooiste sonneblomme
ek weet hulle sou joune wees
maar jy het my weggegooi

(c) 2013 allen simpson

Powered by WordPress.com.

Up ↑