Hierdie liedjie wat ek nou met julle deel is baie spesiaal vir my, ek het ‘n dig kompetisie in 2013 gewen met hom by Solovlug. Ek het hom in my tweede bundel Skaduland gesit. Valentyn’s Dag is vir sommige ‘n hartseer dag en die liedjie is vir julle wat treur op Valentyn’s Dag

Die Wolf Projek is Allen Wolfie Simpson se gedigte wat deur verskeie kunstenaars verwerk en gesing word.

Die brief vol Trane (‘n gedig vir Valentyn)

My lief, ek brand vir jou vyf wit rose
en gee vir jou die as
gesmeer op ‘n karton valentyn’s hart
bedrup met rooi kers was
want jy wou nooit hê dat ek iets moes koop
en altyd gesê: ‘Kommersieële goed is strooi’
Liefde was vir jou elke dag, en dis so mooi
my lief, vir jou verbrand ek elke cd
van daai blonde bimbo wat
soos Stievie Wonder kopswaai
want jy het altyd gesê die bimbo se liefde is blind
Vir jou dans ek in die aand
op maat van die Universe se simfonie
en soos ons liedjie van ouds
smeek ek jou
(kom dans weer met my)
weer met my

Jou grafsteen is grys, soos die oggend se grou
hier lê gister se rose verlep
hier wil ek lê op jou graf, by jou
tot die oggend Haar trane op my sif soos dou
en Valentyn’s dag net nog ‘n hartseer skim is
en dans droom met jou…
(kom dans weer met my)
weer met my

Alleen is ek, sonder jou
my woorde, ‘n brief vol trane
my ink van verlange na intieme aande
gevou in jou arms, jou leliewit arms…
jou jasmyngeure parfuum in my neus
nou is jy net ‘n klopgees in my hart
wat ween
(Kom dans weer met my…)
maar die dans is verby…

(c) 2013 allen simpson
Klop’gees – In die spiritisme, gees wat sy teenwoodigheid aankondig
deur te klop, kloppende geluide te maak op duere, vensters, meubels, ens. (Volgens H.A.T. woordeboek)