Soek

wolfshadowwhispers

'n venster na 'n ander wêreld

Sleutelwoord

hoop

Personifikasie van seer

Wanneer die t.v aan geskakel word:
nog ‘n boer vermoor
nog ‘n ongeluk op die pad
nog ‘n oorlog iewers
nog ‘n president wat in sirkels kak praat Lees voort “Personifikasie van seer”

Dig Lanterns #4

Ek deel graag met julle nog van my inskrywings van die Dig Lantern kompitisie waaraan ek deel neem… ek hoop julle geniet dit!

lag bring hoop (Lantern)

lag
bring hoop
wees nie bang
dans van binne
juig

(c) 2017 Allen Wolfie Simpson Lees voort “Dig Lanterns #4”

Waar die groen gras groei

Die sproeireën van Februarie val tussen die krake van hoop en wanhoop
Iewers prys ‘n boer sy Skepper terwyl hemelse druppels sy land voed
Iewers huil kinders, vasgevang in die klas, en wens vir die son
Met ‘n selfsugtige droom om in die sand te speel Lees voort “Waar die groen gras groei”

Verwensde drome

As kind was drome onskuldig
In die reflektiewe oog
Hunker ek nog na Lees voort “Verwensde drome”

hang

Al ooit lus gevoel om tou op te gooi…
jy vat ‘n tou en gooi dit in ‘n mik
en hang

(alles loop verkeerd
alles loop so verkeerd jy het seer
in jou siel en… Lees voort “hang”

Skaduwagter

Weet jy wie ek is, wat in die skadu’s wag
Wanneer duisternis jou ontwrig
Wanneer jou hart net wil sug
En jy blind en arm-af-gekap voel?

Sal jy my naam roep en luister na my stem?
Toe ek vrygelaat is uit die boks
En wanhoop gesaai is in jou wêreld
Het my naam ontstaan in jou hart.

Ek wag in die skadus
Laat jou hart my naam skree
Ek weier my kragte nooit

My naam… is HOOP

Daar is ALTYD hoop

(C) 2013 allen simpson
Hoop vergaan nooit!

Die ou gedig van my is geinspireer deur die Griekse legende van Pandora. Pandora het mos ‘n boks oopgemaak wat sy nie moes nie in ‘n onskuldige wêreld en al die slgte dinge soos haat, wraak, moord ens het ontsnap in die wêreld in. Sy was geskok. Toe vlieg ‘n laaste dingetjie uit die boks en sê:”Pandora, wees nie bevrees nie. Ek is hoop. Ek is die beste wapen teen all slegte dinge”

Onthou altyd al is daar so baie slegte dine in jou lewe, daar IS altyd hoop. Dit wag saam met jou in die skadus van jou lewe. Dit gee jou krag. Dit help altyd. Moet hoop nooit weggooi nie.

Gedig in ‘n parkering

die oggendson steek my met sy lem
en mirages tart my tussen die karre
mense snik aan die hitte
en verlep soos sirkus narre

‘n wind steek op
terg-terg my hoed
ek smeek die wind in my hart
‘ek wil saam’

iewers in ‘n alternatiewe Universe
neem die wind my saam…
En ek waai na jou.

(c) 2013 allen simpson
Ek hou van die woord ‘Universe’ want dit is meer as net die ‘heelal’. Dit is soos die Engelse sal sê: ‘a state of mind…’

eindverhaal

Die trompette het dit uit basuin
daar was strikke in elke tuin
manne is swart pakke het gesug
en gefluister in die lug:
‘Die einde is naby.’

Daar was vlugsout in die tannies se sakke
melktert is aan almal gegee
vals tande was in, het pragtig geblink
selfs die dorpsdronkies het minder gestink
want die einde was naby

hoor hoe roep elke moeder haar kind
en die stoutste een breek nie eens ‘n wind
die burgermeester is in sy skik
selfs die daggarokers het hulself reggeruk
die einde het gekom

die bus het stadig in gery
met trompette en juig ingelui
een vir een het hulle uit geklim

daar was skielik stilte in die dorp
net dankbaar prewels is gehoor
die jong manne het skielik beheer verloor
daar was trane orals tot in die gehoor

die oorlog was oor

(c) 2013 allen simpson
toe ek klein was kon ek nog onthou hoe drie van my broers van die grensoorlog af terug gekom het… Dit was ‘n groot genade om hulle al drie terug te ontvang

geloof’s ekstrak

skaars was ek soos die maan op donkermaan aande
weg gesteel na drome
terwyl ek, moeg, gedrink het aan wonders
die wonder van wanneer
die wonder van hoekom
die wonder van waarom nie

my beker vol wonders het oorgeloop

daar was net een uitweg…

dit het gekom in ‘n droom….

die ekstrak van geloof is nie in mense se woorde nie
dit is nie in boeke nie
jy sal dit nooit op teleivisie nuus kry nie
die ekstrak van geloof is in jou
jou hart
jy wek hom op
hoor hom eers swakkies klop
klop
klop
dan speel die dromme
en jy glo en glo en glo

en jou beker loop weer oor in wonders
wonder hoekom jy nie gouer daaraan gedink het
wonder watse magiese wonderlike dinge op jou wag

al wat jy doen…
net een simpel stap…

‘n druppel ekstrak van geloof in die beker van wonders

dis al…

(c) 2015 allen simpson

ai die foto het ‘n spelfout op… wys jou net as jy oormoeg is maak jy foute

digpelgrim

ek soek my land se oop spasies, woude en wind
waar ek kan skree in die berge “Afrika ek’s jou kind”
waar geld net ‘n skerf is in die lewe se glas
waar ek kan skuil vir die hitte agter ‘n boom se bas
waar die reuk van bloekom en denneboom my verlei
en die muses in my hart my na nuwe gedigte lei
waar Harties se damwal soos ‘n lorelei my roep
en in Pelgrimsrus wil ek chill op ‘n cottage se stoep
in die woude van Sabie wil ek my wolfroep skree
waar die kranse en berge my eggo antwoorde gee
ek wil ink riviere bloei uit my digters hart
en reis na jou bekoorlike hoeke,
my geliefde Moederland
ek wil jou gee en offer wat jy vra
verskoon my oom C.J. jou gedig is hierin geweef
ou woorde towenaar, ek hoop jy sal my vergeef
want soos jy is ek maar net ‘n gypsy in my land
‘n digpelgrim sonder grense
met Afrikaans in bloed, my siel en my hand.
EK sal aanhou lewe en swerwe
tot die doodskaduwee kom
en dan nogsteeds op die pragtige stukkie aarde
iewers in die Jakarandas gaan blom

ek is maar net ‘n digpelgrim
dit is my reis
my wolwedans in die skemer
en Suid Afrika my paleis

(c) 2015 allen ‘wolfie’ simpson
met apologie aan C.J. Langenhoven

sintuiglike verwelkoming van lente

agter die glas kyk ek oog vir oog
hoe stormdruppels spartel-dans
die reuk van osoon en nat aarde
siels-vul my soos duur saffryn
die trippe-trap klank op my dak
bring ritme sag en week in my

stadig maak ek my venster oop
en steek my hande uit
tip tip tip val die druppels
en die koelte daarvan sleur my mee
ek bring my hand na my mond
en lek hemelswater stadig op
die soet-suur van lewe
blom in my
en
ek weet binnekort blom Jakarandas ook
in die mooiste Oktober son

(c) 2015 allen simpson

Website Powered by WordPress.com.

Up ↑