ek maak jou nuut in my woorde
jou hol wange en kraaivoet oë
plooie soos die mars kanale
jou moeg wat sug in jare
val weg en ek onthou jou;

jy wat was ‘n vonk en later ‘n vlam
voor jy spoeg vuur geword het
voor jy eendag net as word
maak ek jou nuut

in die onthou

ek kyk in die spieël
en weet wie jy is

ek

(eendag lank lank gelede was daar ‘n ek
jonk en het fokkol geweet
my onskuld het almal laat glimlag
voor dubbeltjies van jare
die kaal van my voete gesny het

die ek was ‘n dromer
hy het geleef in hoop)

ek maak my nuut in my woorde
deur te onthou
my kindelike onkunde
my glo in alles ontmoontlik

(eendag het jy, meneer ek,
oud geword en in ‘n speël gestaar
en jou nie meer herken nie
maar in die onthou van ‘n ouer man
leef ek die kind…)

soms nog sien ek die kind, die ek
en ek wens dat alles nog moontlik was
toe glo in onmoontlik moonlik was

ek is dan vir ‘n minuut
nuut in my woorde

(c) 2022 allen wolfie simpson