Klei-lat speel en dammetjie bou
modderkoekies lê in ‘n tou
terwyl ons wag onder die bosveld son
vir die skoolbus om te kom

Kinders wat uitbundig lag
Buck Rogers speel tot in die nag
Goëlstories en spokery onder die maan vertel
en sterre kyk onder volmaan se spel

Kinders was vrolik, vry
maar die tyd is nou verby
vasgevang in PlayStation en tegnologie
te vroeg ryp, te vroeg vrot, teveel televisie

As ek net weer ‘n kind kon wees
om kinders vandag te wys hoe om te leef
om lag terug te bring
en die magiese krag
van modder
en om regtig te kommunikeer
sonder knoppies druk
sal hulle verstik?
of sal hulle leer om te leef?

Vooruitgang is soms ‘n siek grap
as kinders vergeet om in gras te trap
as kinders vergeet van koljander, koljander deur ‘n bos…
kind wees het oumens geword
voor twintig jaar oud
weet hulle te veel en leef hulle te min
waar is die kindwees heen….

(c) 2014 allen simpson